Stay safe online. Now more than ever it’s important to be cybersafe. See our tips to help you stay safe online. Learn more
Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Sanlam Investments
Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Die Impak van Werk van die Huis af

19 November 2020

Of ons nou daarvan hou of nie, is die idee van “werk van die huis af” blykbaar hier om te bly. Alhoewel sekere sektore aan die spits staan van die konsep van werk van die huis af, het huidige gebeure veroorsaak dat die gewone werkerskorps dit nou ook doen.

Vryskutwerkers en internetgebaseerde professionele persone verkondig reeds jare lank die voordele van werk van die huis af. Hierdie voordele word egter nie noodwendig deur die massas gedeel nie. Werk van die huis af is dalk nie tans ’n keuse nie, maar dit kan wel in die toekoms wees.

Behoort ons die geleentheid aan te gryp?

Voordat ons dit doen, behoort ons te kyk na die voor- en nadele van hierdie benadering en hoe dit op ons eie werklewe van toepassing is.

Daar is voor die hand liggende voordele wanneer dit kom by werk van die huis af. Eerstens is dit nie nodig om werk toe te pendel nie, wat ons meer tyd gee om soggens gereed te maak, om te gaan draf, of om die sluimerknoppie een keer, of selfs ses keer te druk voor ons hoef op te staan. Ons vermy die frustrasie van verkeersknope en spaar geld wat ons gewoonlik aan vervoerkostes sou bestee.

Tweedens het ons ons eie ruimte. Ons kan dit so gerieflik moontlik inrig, het meer tyd om met ons gesin deur te bring, en het toegang tot ’n ten volle toegeruste kombuis! Dit maak dit vir ons moontlik om geld te spaar op die duur gewoonte om in die middag uit te eet of koffie te koop.

Die outonomie, gerief en buigsaamheid kan ook ’n tweesnydende swaard wees. Daar is ook nadele verbonde aan werk van die huis af. Die skeiding van werk- en huislewe kan vervaag. As ons nie fisies die kantoor verlaat nie, wanneer moet ons dan ophou werk?

Een oplossing hiervoor is om ’n toegewese kantoorruimte te hê. Om in die bed of op die rusbank te werk, maak dat ons slegte gewoontes aanleer. Ons moet die ingesteldheid hê dat wanneer ons ons toegewese werkruimte verlaat, ons nie meer “in die kantoor” is nie. Dit kan moeiliker wees vir diegene wat nie die voordeel van ’n toegewese werkplek het nie, maar die kreatiewe skepping van klein ruimtes deur middel van gordyne of afskortings kan ons help om ingestel te wees op ruimtes en tye “by die werk” en “by die huis”.

’n Ander probleem is dat baie mense wat van die huis af werk, sê dat hulle eensaam en sosiaal afgesonderd voel, wat ’n negatiewe impak op prestasie en verbintenis tot werkverwante doelwitte kan hê. ’n Gebrek aan blootstelling aan menslike interaksie en samewerking kan moeilik wees, en daarom stel ons telefoon- en video-oproepe voor wanneer dit moontlik is. Selfs geringe sosiale interaksie met kollegas kan die gevoel van afsondering verlig.

Dit raak moeilik wanneer daar van ons verwag word om nege uur per dag agter ’n lessenaar te sit en e-posse inkom lank nadat ons uitgeteken het.

’n Vaste roetine werk vir baie mense – teken op ’n vasgestelde tyd in, teken op ’n vasgestelde tyd uit, neem gereeld ’n blaaskans en bly in sosiale kontak.

Terloops, ervare vryskutwerkers wat van die huis af werk, is gereelde besoekers aan koffiekroeë. Dis goed om geld op duur koffies te spaar, maar as dit is wat nodig is om uit die huis te kom en ons geestelik gesond te hou, laat dit dan so wees!

Contact Us

Please complete the following information.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam