Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het hom natuurlik midde-in hierdie debatte bevind weens Suid-Afrika se betrokkenheid by onder meer die Bank vir Internasionale Vereffeninge, die G20, en die Raad op Finansiële Stabiliteit. Omdat Suid-Afrika nie in die middel van die krisis was nie, het baie van bogenoemde kwessies buite die SARB se sfeer van bedrywigheid geval. Sommige van die kwessies wat geopper is, het egter betrekking op die SARB se rol teen ‘n Suid-Afrikaanse agtergrond.
Te oordeel aan sy toepassing van monetêre beleid oor die afgelope twee jaar is die SARB oënskynlik min geraak deur internasionale verwikkelings in die sentrale bankwese die afgelope paar jaar. Die uitsondering is op die regulatiewe vlak waar, in ooreenstemming met huidige internasionale beste praktyk, hy die hoofrol speel by makro-voorsorgtoesig as deel van Suid-Afrika se “twin peaks”-benadering van finansiële regulering.
Die Bank se verhoging van die repokoers (wat nou altesaam 125 basispunte is sedert hy 22 maande gelede met sy verstrammingsiklus begin het) ondanks ‘n swakker ekonomie en sy eie erkenning van die afwesigheid van enige aanduiding van inflasiedruk weens oormaatvraag, dui op ‘n vasbeslotenheid om onversetlik by sy mandaat van inflasieteikenstelling te hou. Alhoewel die SARB ná die aanvang van die krisis en die resessie in die ekonomie ongetwyfeld getrou gebly het aan sy self-toegeskrewe rol as buigsame inflasieteikensteller, lyk dit asof hy al hoe meer onbuigsaam word en sy geloofwaardigheid en onafhanklikheid heftig verdedig.
Dit lyk inderdaad of die SARB hom dit ten doel gestel het om inflasieverwagtinge in lyn te bring met die middelpunt (4,5%) van sy teikenwydte eerder as om toe te laat dat hulle na aan die boonste grens (5,5 - 6%) vassteek.
Die mees fundamentele kwessie waarmee die SARB in die kort-termyn gekonfronteer word, is egter die handhawing van sy onafhanklikheid in ‘n politieke omgewing wat min agting toon vir die integriteit en status van belangrike instellings. Die toenemende uitdaging van ‘n staatskuldlas wat al hoe groter word as gevolg van uitgawes wat nie groei aanhelp nie en dus ook nie die belastingbasis waaruit dit gefinansier moet word, sal vergroot nie, maak ‘n sterk houding oor inflasie toenemend onaantreklik en die monetisering van die staatskuld eweneens meer aantreklik.
Met die gesag van die Nasionale Tesourie wat reeds ondermyn word, sal dit die laaste strooi wees wat die ekonomie oor die afgrond sal stoot indien Suid-Afrika ooit hierdie weg sou inslaan.