Skip Ribbon Commands
Skip to main content

The information on the Adviser and Institutional areas of this site have been tailored for investment professionals. Appropriate product, fund and service information for private investors can be accessed on the Personal area of our site. Terms & conditions.

continue
Do not show this again.

Contact

Call me back

Advice

Back

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Dit is eerstens nodig om te definieer wat ’n mens onder ’n fiskale afgrond verstaan aangesien dit ’n redelik dramatiese prentjie skilder ̶ ’n afgrond is immers ’n lewensgevaarlike risiko! ’n Fiskale afgrond beteken dat ’n land se skuldlas ondraaglik geword het en dat hy op die punt van wanbetaling staan, met ander woorde dat hy óf nie die rente op die skuld óf die kapitaal ten opsigte van effekte wat hul einddatum bereik het (of beide), sal kan betaal nie.

Finansiële markte is duidelik nie op die oomblik hieroor bekommerd nie.

In die eerste plek is die hooftaak van kredietgraderingsagentskappe om die vermoë van leners om hulle verpligtinge na te kom deurlopend te monitor en beleggers vroegtydig te waarsku indien hulle die moontlikheid van wanbetaling voorsien. Hoewel graderingsagentskappe in die verlede daarvan beskuldig is dat hulle te laat reageer, het die kritiek waaronder hulle deurgeloop het in die nasleep van die internasionale finansiële krisis veroorsaak dat hulle nou meer pro-aktief is in hulle optrede.

Op die oomblik geniet Suid-Afrika ’n beleggersgradering van al drie die belangrike kredietgrade-ringsagentskappe, met ’n stabiele vooruitsig (met ander woorde hulle voorsien nie dat hulle binnekort hulle graderings sal aanpas nie). Suid-Afrika sou bepaald nie hierdie gradering geniet het indien hy hom op die rand van ’n fiskale afgrond bevind het nie.

Tweedens is dit die houers van Suid-Afrikaanse staatseffekte wat direk geraak sal word indien Suid-Afrika oor ’n fiskale afgrond sou stort ̶ dit is immers hulle wat die finansiële verliese sal dra. En deesdae hou buitelandse beleggers nie net Suid-Afrikaanse staatseffekte wat in buitelandse geldeenhede soos die dollar gedenomineer is nie, maar ook byna 40% van rand-gedenomineerde effekte.

Indien beleggers beangs sou wees dat Suid-Afrika voor ’n fiskale afgrond staan, sou hulle uit die aard van die saak probeer het om so vinnig moontlik van hul Suid-Afrikaanse effekte ontslae te raak en sou die opbrengskoers op effekte die hoogte ingeskiet het. Soos die meegaande grafiek toon, is daar egter geen teken van ‘n tendensverandering in die opbrengskoers op Suid-Afrikaanse staatseffekte nie – die koers op ‘n generiese Suid-Afrikaanse staatseffek met ‘n termyn van 10 jaar wissel immers reeds sedert 2005 rondom 8%.

Bron: I-Graph

Net so is die verskil tussen die opbrengskoers op ‘n 10-jaar SA staatseffek en dié op ’n ooreenstemmende Amerikaanse staatseffek (’n goeie aanduiding van beleggers se risiko-persepsies) tans 526 basispunte vergeleke met ‘n gemiddelde vlak van 542 basispunte sedert 2009, wat weereens nie dui op verhoogde risiko-persepsies nie.

Suid-Afrika bevind hom dus beslis nie op die rand van ’n fiskale afgrond nie, maar ’n mens sou wel kon sê dat hy hom in ’n fiskale moeras bevind wat intense inspanning gaan verg om uit te ontsnap. Dit is egter nie die eerste keer dat die land voor hierdie uitdaging te staan kom nie en daar is vele lesse te leer uit die vorige episode van fiskale konsolidasie wat in 1997 begin het.

In ’n voorlegging oor “South Africa’s long-term fiscal choices” spreek Michael Sachs, die begrotingshoof in die Nasionale Tesourie, op 5 November tydens ’n fiskale werksessie in Pretoria die belangrikste kwessies wat betref Suid-Afrika se langtermyn fiskale vooruitsigte aan met die oog op die volhoubaarheid van die staat se finansiële posisie, gedefinieer as ‘n stabiele of dalende staatskuld-tot-BBP-verhouding.

Die ontleding toon onder meer dat die huidige vlak van maatskaplike besteding volhoubaar is (voorstanders van die idee van ‘n fiskale afgrond beweer juis dat dit is wat Suid-Afrika oor die afgrond gaan dryf) indien daar nie enige uitbreiding van die huidige stelsel is nie. Aangesien die gedagte reeds geopper is om moontlik die maksimum kwalifiserende ouderdom vir kindertoelaes (tans 18 jaar) te verhoog, is dit natuurlik ’n sensitiewe aanname.

Die motivering vir so ’n stap is geleë in die hoë vlak van werkloosheid onder jongmense, maar ’n mens sou kon aanvoer dat dit reeds aangespreek word met die instelling van die indiensnemingsubsidie vir werkers tussen die ouderdom van 18 en 29 jaar.

    Die Nasionale Tesourie se ontleding berus op ’n reeks aannames wat betref demografiese tendense, ekonomiese groei en beleidscenarios. Die belangrikste gevolgtrekkings kan soos volg opgesom word:
  • Die huidige vlak van staatsuitgawes is volhoubaar mits ekonomiese groei ’n gemiddelde vlak van 3% per jaar handhaaf. In ‘n scenario van sekulêre stagnasie sal dit egter toenemend moeilik wees om die huidige bestedingsvlakke (insluitend maatskaplike besteding) vol te hou.
  • Sonder hoër ekonomiese groei sal die trajek van skuldverlaging nie ideaal wees nie en sal Suid-Afrika kwesbaar bly vir skokke.
  • Nuwe maatskaplike beleidsinisiatiewe soos voorgestel in die Nasionale Ontwikkelingsplan, insluitend Nasionale Gesondheidsversekering, sal in die komende dekades betekenisvolle druk op die fiskus uitoefen indien dit deurgevoer word.
  • Fiskale volhoubaarheid vereis dat een (of ’n kombinasie) van die volgende stappe nodig sal wees om vir toekomstige strukturele toenames in besteding voorsiening te maak: ’n versnelling in ekonomiese groei, ’n styging in die strukturele vlak van belasting, of die herprioritisering van staatsuitgawes.

Vergeleke met die vorige fiskale konsolidasieproses wat in 1997 begin het, is die huidige omgewing minder ondersteunend, veral wat betref die vooruitsigte vir ekonomiese groei en dus staatsinkomste. Dit is onwaarskynlik dat die gemiddelde groeikoers van 4% wat vanaf 1999 tot 2007 gegeld het in die volgende 10 jaar herhaal sal word.

Die tydperk van 1997 tot 2007 is verder gekenmerk deur ’n toename in staatsinkomste as persentasie van BBP ten spyte van herhaaldelike verlagings in belastingkoerse. Hierdie keer sal dit belastingverhogings verg om dieselfde te bereik, wat reeds lae ekonomiese groei verder sal demp.

Hoewel Suid-Afrika nog nie deur ’n fiskale afgrond in die gesig gestaar word nie sal dit dus buitengewone politieke dissipline vereis om geleidelik weg te beweeg van so ’n moontlikheid.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam