Soos reeds genoem, fokus die begrotingsrede op inklusiewe groei en inklusiewe transformasie. By die aktiewe regstelling van die onregte van die verlede het ons ʼn keuse tussen die verkryging van bevoorregting en rykdom vir enkeles, of wyer deelname en wydgerigte bemagtiging.
ʼn Onlangse ondersoek deur die Brusselse dinktenk Bruegel na inklusiewe groei in Europa, voer aan dat groei as inklusief beskou kan word indien dit geleenthede vir alle segmente van die bevolking bied en dit billik deel. Om inklusiewe groei te verstaan, moet ons eerstens ongelykheid verstaan.8 Dit is vanselfsprekend dat hierdie waarneming ook op Suid-Afrika betrekking het.
Minister Gordhan se begrotingsrede het ook nie weggeskram van die moontlike botsing tussen groei en transformasie nie. Ek het in die verlede aangevoer dat Suid-Afrika ʼn beter balans tussen hierdie doelwitte moet handhaaf en dat groei nie deur transformasienoodsaak gekniehalter moet word nie. Dit is dus verblydend om daarop te let dat die minister gesê het dat ons ʼn keuse het tussen benaderings wat slegs rykdom oordra, en benaderings wat nuwe ondernemings, nuwe bates, nuwe werkgeleenthede en ʼn meer oop groeipad skep.
Inklusiewe groei en transformasie word eerder as aanvullend tot mekaar gesien. Die siening is dus dat inklusiewe groei die oopstelling van geleenthede en die verruiming van deelname aan ʼn uitbreidende ekonomie beteken, wat in die gemarginaliseerde gemeenskappe se behoefte aan dienslewering voorsien (d.w.s. vermoë-tekortkominge aanvul), goeie werkvooruitsigte vir almal skep, en onderwys van goeie gehalte op alle vlakke aan alle gemeenskappe voorsien.
Inklusiwiteit sal ook bevorder word deur die gehalte van onderwys, die tempo en patroon van verstedeliking en behuisingsontwikkeling, nywerheidsontwikkeling en die uitbreiding van werkgeleenthede, handel en nywerheid, en maatskaplike beskermingsdienste, insluitend toegang tot gesondheidsorg en maatskaplike veiligheid.
Dit sou maklik wees om tot die gevolgtrekking te kom dat inklusiewe groei net oor gelyke geleenthede gaan en dat, indien alle formele struikelblokke wat in die weg van toegang tot geleenthede vir almal staan, verwyder word, alles in orde sal wees. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Bruegel het bevind dat daar ʼn toenemende besef is dat ekonomiese groei op sigself nie billike geleenthede aan verskillende segmente van die samelewing voorsien nie. In die meeste lande vind agtergeblewe mense dit moeilik om vooruit te gaan.9 Met ander woorde, voordat daar gelyke geleenthede kan wees, moet die armes se vermoë-tekortkominge waarna Sen verwys, uit die weg geruim word.
Die belangrikste tekortkominge lê by onderwys weens die belangrikheid daarvan vir opwaartse mobiliteit en geskiktheid vir werk, insluitende self-indiensname. Met die aandag in Suid-Afrika tans op hoër onderwys, is dit gepas om onsself te herinner aan die kritieke belangrikheid van vroeëkindontwikkeling vir lewenskanse.
8Darvas and Wolff (2016), p. 1
9Darvas and Wolff (2016), p. 9