Skip Ribbon Commands
Skip to main content

The information on the Adviser and Institutional areas of this site have been tailored for investment professionals. Appropriate product, fund and service information for private investors can be accessed on the Personal area of our site. Terms & conditions.

continue
Do not show this again.

Contact

Call me back

Advice

Back

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Vir baie mense is die prisma waardeur die begroting beoordeel moet word die vraag of dit sal verhoed dat Suid-Afrika na rommelstatus afgradeer word wat betref staatseffekte wat in buitelandse valuta uitgedruk word. Om te herhaal – dit stuur staatsfinansies beslis in die regte rigting om die risiko van so ‘n uitkoms te verminder (byvoorbeeld deur baie vinniger na ‘n primêre surplus te beweeg soos wat ek in my kommentaar voor die begroting geargumenteer het). Maar dit sou wys wees om te besef dat dit nie die gevaar van ‘n afgradering heeltemal uit die weg ruim nie.

Eerstens kan aangevoer word dat alhoewel dit in die regte rigting beweeg, dit nie vinnig genoeg en ver genoeg is nie. Baie van die beplande bykomende fiskale konsolidasie is tot die laaste jare van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk uitgestel en daar is dus nie sekerheid daaroor nie. Belangrike besonderhede oor hoe dit sal gebeur, ontbreek, veral oor die belastingwysigings wat nodig is om die bykomende inkomste wat reeds ingereken is, te genereer, alhoewel die Begrotingsoorsig na my mening uit sy pad gaan om die weg vir ‘n verhoging van die BTW-koers te baan.

Tweedens bestaan die behoefte aan hervormings om groei aan te wakker steeds. Dit was vanselfsprekend onrealisties om van die Minister van Finansies te verwag om ‘n towerstaf te swaai en alle strukturele hindernisse op die pad van ekonomiese bedrywigheid te verwyder, omdat dit geheel en al buite sy jurisdiksie is. Alhoewel baie gedoen kan word om die korttermyngroeivooruitsigte vir die ekonomie te verbeter deur eenvoudig negatiewe faktore soos beleidsonsekerheid uit die weg te ruim, sal dit langer neem om die positiewe stappe uit te werk en te implementer. Suid-Afrika sal dus waarskynlik vir die afsienbare toekoms in ‘n baan van lae groei vasgevang wees.

Derdens bly die internasionale omgewing net so uitdagend soos voorheen, soos onderstreep deur Brasilië se afgradering na rommelstatus deur Moody’s (die laaste van die drie belangrikste graderingsagentskappe om dit te doen) op begrotingsdag. Soos ek voorheen genoem het, sal iets uitsonderliks nodig wees om te verseker dat Suid-Afrika die verwagte algemene vloed van afgraderings van opkomende markte oor die volgende 12 tot 18 maande vryspring, en na my mening voldoen die stappe wat in die begroting aangekondig is nie aan hierdie vereiste nie.

Met verwysing na Brasilië se afgradering wat hierbo genoem is, is dit dalk nuttig om Suid-Afrika met Brasilië te vergelyk om te bepaal of Suid-Afrika daardie land se voorbeeld sal volg. Die onderstaande tabel toon die belangrikste syfers aan.

Suid-AfrikaBrasilië
Ekonomiese groei (%)
20151,3-3.8
2016v0,7-3,5
2017v1,80,0
Inflasie (%)
20155,59,3
2016v5,75,5
10-year soewereine opbrengskoers (%)
Tans9,315,8
Saldo op die lopende rekening (% van BBP)
2015-4,3-4,0
2016v-4,5-3,8
Begrotingsaldo (% van BBP)
2015-4,2-5.8
2016v-3,5-4,7
2017v-3,1-4,2
Primêre saldo (% van BBP)
2015-1,01,2
2016v-0,12,0
2017v0,32,3
Bruto staatskuld (% van BBP)
201547,566,2
2016v48,266,2
2017v48,865,3
Gemiddelde looptyd van staatskuld (jaar)
201511,96,9
Nie-inwonendes se staatskuldbesit (%)
201433,316,6
Geprojekteerde rentekoers- groeiverskil 2015 - 2020 (%)
20151,3-3.8
Werkloosheidskoers (%)
2011 - 2015257
Gini-koëffisiënt
Jongste WB raming63,452,9
Bron: IMF World Economic Outlook October 2015 en Update January 2016, IMF Fiscal Monitor October 2015, World Bank World Development Indicators 2016

Soos in die tabel aangetoon, is Brasilië se soewereine skuld as ‘n persentasie van BBP ongeveer 50% hoër as dié van Suid-Afrika, maar dit het reeds ‘n hoogtepunt bereik weens onder andere ‘n hoër primêre surplus, terwyl Suid-Afrika se skuldvlak nog moet stabiliseer. Alhoewel albei lande met ‘n hoë vlak van voorwaardelike verpligtinge te make het, hou ‘n groter deel hiervan in Suid-Afrika se geval verband met staatsondernemings.

Ten spyte van Suid-Afrika se swak groeiprestasie is dit egter steeds beter as dié van Brasilië, wat vir die tweede agtereenvolgende jaar in resessie is, terwyl Suid-Afrika ook die voordeel van heelwat laer rentekoerse geniet. Die gevolg is ‘n rentekoers-groei-verskil wat in Suid-Afrika se geval baie meer bevordelik is vir die volhoubaarheid van staatskuld.

Aan die ander kant het Suid-Afrika ‘n groter behoefte aan buitelandse finansiering as Brasilië en is dit meer kwesbaar vir die onttrekking van buitelandse beleggers aangesien Suid-Afrikaanse effekte in buitelandse besit (as ‘n persentasie van totale uitgereikte effekte) dubbeld die van Brasilië is.

Wat politieke en maatskaplike stabiliteit betref, het Suid-Afrika en Brasilië te make met dieselfde uitdagings van korrupsie waarby senior politici en invloedryke sakepersone betrokke is, ‘n uiters ongewilde president wat moontlik nog uit hul amp verwyder kan word, ‘n minister van finansies wat dit moeilik vind om ander politieke rolspelers te oorreed om fiskale konsolidasie te ondersteun (in die geval van Brasilië het Minister Joaquim Levy in Desember 2015 bedank nadat hy nie genoeg politieke steun vir sy besuinigingsmaatreëls kon kry en ‘n soewereine afgradering na rommelstatus verhoed nie), en uiterste vlakke van werkloosheid, ongelykheid en armoede (alhoewel Brasilië in die afgelope paar jaar meer vordering gemaak het om hierdie uitdagings die hoof te bied). Suid-Afrika bevind himself natuurlik nog in die proses van transformasie ná apartheid.

Op stuk van sake is Suid-Afrika dus steeds in ‘n effens beter posisie as Brasilië om aan die vereistes van ‘n beleggingsgraad soewereine gradering te voldoen, maar net die tyd sal leer of hy Brasilië na die rommelruimte gaan volg.

Alhoewel die gevaar dat Suid-Afrika tot rommelstatus afgradeer kan word ‘n tydige waarskuwing was en onlangs gehelp het om beleidvormers en ander rolspelers sover te kry om aandag te gee aan wat gedoen moet word om ‘n afgradering te voorkom, kan dit ‘n fout wees om net op een bepaalde gebeurtenis te fokus wat verwerklik kan word of nie. Per slot van rekening hang Suid-Afrika se kredietgradering saam met die gesondheid van sy ekonomie en die nodigheid vir strukturele hervorming om die ekonomie op ‘n hoër groeibaan te kry, is noodsaanklik ongeag graderingsbesluite.

Die gevaar is dat indien Suid-Afrika tot rommelstatus afgradeer word ondanks die pogings om dit te verhoed, dit kritici van ‘n meer mark- en besigheidsvriendelike benadering sal aanmoedig om te verklaar dat dit alles verniet en onnodig was. As daar een eienskap is wat deur al die verskillende politieke faksies in en om die regering gedeel word, is dit hul onderlinge afkeur van wat algemeen “neoliberalisme” genoem word.

Indien Suid-Afrika se buitelandse-valutagedenomineerde soewereine effekte wel tot laer as beleggingsgraad (rommel) afgradeer word, sal dit ‘n alreeds ongunstige groei-omgewing selfs meer ongunstig maak deurdat die koste van kapitaal verhoog sal word. Dit sal egter nie die einde van die graderingspel beteken nie en die land moet daarna daarop fokus om sy verlore beleggingsgraadstatus so gou moontlik te herwin. Met ander woorde, die uitdagings sal dieselfde bly: om die probleme van werkloosheid, armoede en ongelykheid deur inklusiewe groei op te los.

Intussen het die opbrengskoers op staatseffekte reeds skerp gestyg van 6,9% vir die generiese 10-jaar-opbrengskoers aan die begin van 2015 tot die huidige vlak van 9,3%. ‘n Reeks faktore – sommige van internasionale en ander van plaaslike oorsprong – het ‘n rol hierin gespeel. Selfs indien Suid-Afrika ‘n afgradering na rommelstatus vermy, kan dit steeds met hoër leningskoste te make hê as gevolg van internasionale beleggers se toenemende weerstand teen hoë beleggingsrisiko.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam