Skip Ribbon Commands
Skip to main content

The information on the Adviser and Institutional areas of this site have been tailored for investment professionals. Appropriate product, fund and service information for private investors can be accessed on the Personal area of our site. Terms & conditions.

continue
Do not show this again.

Contact

Call me back

Advice

Back

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Om die dilemma van inflasie vs groei waarvoor monetêre beleid staan, op te los, moet ‘n mens dit in ‘n gestruktureerde raamwerk sien om die verskillende aspekte te begryp. So ‘n raamwerk moet insluit die identifisering van die kragte wat inflasie dryf, ‘n begrip van hoe inflasieverwagtinge gevorm word, en ‘n duidelike beeld van hoe die monetêrebeleid-oordragsmeganisme moet werk vir monetêre beleid om inflasie te verlaag en inflasieverwagtinge te stabiliseer op ‘n vlak wat in ooreenstemming met die Reserwebank se inflasieteiken is.

In die eerste plek moet ‘n mens ‘n duidelike begrip hê van die oorsake van hoë en lae inflasie. Soos die MBK by meer as een geleentheid aangedui het, bestaan daar geen bewyse dat inflasiedruk uit oormaatvraag ontstaan nie. Dit is ook onwaarskynlik dat ons binne afsienbare tyd so ‘n fase sal betree.

Groei in huishoudelike verbruiksbesteding én in huishoudelike krediet is gedemp, hoofsaaklik omdat huishoudings se bestaande skuldlas en skulddienskoste nouliks bekostigbaar is. Verbruikersvertroue is ook laag. Werkskepping is steeds beperk. Persoonlike belasting wat waarskynlik in die toekoms gaan styg, plaas afwaartse druk op besteebare inkomste. Die ondersteuning wat huishoudelike besteebare inkomste danksy ‘n skerp styging in die regering se loon- en salarisrekening oor die afgelope paar jaar geniet het, het tot ‘n einde gekom. Huishoudelike bestedingspatrone moes aanpas by die feit dat rekeninge vir munisipale dienste en elektrisiteit ‘n groter deel van uitgawes uitmaak.

Investering deur die private sektor en sakevertroue is swak. ‘n Duidelike verbetering in toekomstige ekonomiese vooruitsigte sal nodig wees om hierdie dooiepunt op te los. Groei in staatsverbruik en kapitaalbesteding sal onder druk bly weens die nodigheid om owerheidsfinansies te konsolideer en die regering se skuldlas te stabiliseer (en uiteindelik te verminder).

Kortom, dit is hoogs onwaarskynlik dat oormaatvraag vir ‘n lang tyd opwaartse druk op pryse sal plaas. Dit is wel moontlik dat swak vraag die prysbepalingsmag van besigheid sal beperk en besigheid sal dwing om kostedruk te absorbeer of maniere te vind om koste te verlaag indien hulle winsmarges wil handhaaf.

Dit gaan dus alles oor kostedruk wat vanaf die aanbodkant van die ekonomie deurkom – hoër voedselpryse as gevolg van die kwaai droogte, hoër ingevoerde inflasie weens die swak rand, en volgehoue stygings in gereguleerde pryse oor ‘n lang tydperk, veral die prys van elektrisiteit, wat die algemene inflasiekoers oorskry.

Maar ‘n mens kan met reg vra of dit alles beskou moet word as bydraend tot ‘n styging in die algemene prysvlak en of ten minste party van die prysveranderinge nie eerder veranderinge in relatiewe pryse, wat ‘n inherente deel van die seinfunksie van die prysbepalingsmeganisme uitmaak, weerspieël nie. Die onderdrukking van laasgenoemde sou inderdaad die inligtingsinhoud van pryse, wat noodsaaklik is vir markdeelnemers om doeltreffend hul gedrag by veranderde marktoestande aan te pas, ondermyn. Byvoorbeeld, hoër pryse van vars produkte as gevolg van die kwaai droogte is nodig om vraag met laer aanbod te balanseer en verhoogde produksie deur dié wat kan, aan te moedig.

In die tweede plek, wat betref die kwessie van die beheer van inflasieverwagtinge, is die vraag of verwagtinge nie hoofsaaklik aanpasbaar is nie, met ander woorde dit pas by die stygings en dalings in inflasie aan soos dit plaasvind. Die metodologie van die opname oor inflasieverwagtinge moedig verwagtinge in werklikheid aan om aanpasbaar te wees. Dit is dus twyfelagtig of gemete inflasieverwagtinge sterk oortuigings oor toekomstige prysbewegings weerspieël wat by besluitnemingsprosesse inaggeneem sal word.

Alhoewel ekonomiese en markontleders waarskynlik toekomstige inflasie met inagneming van hul verwagtinge oor toekomstige bewegings in rentekoerse voorspel, is dit hoogs onwaarskynlik dat besigheid en arbeid dit sal doen. Daar is in elk geval aanduidings dat besigheid min aandag aan inflasiedata gee aangesien dit nie as ‘n strategiese inset by besigheidsbesluitneming beskou word nie. Dit is net nie realisties nie om te dink dat sakelui bewus is van hoe hul individuele prysbesluite algemene inflasiedata beïnvloed en dat dit aanleiding kan gee tot ‘n respons van die MBK wat tot gevolg het dat hulle nie pryse verhoog nie.

Die derde element van ons begripsraamwerk, wanneer ons die oorsake van inflasiedruk bepaal het, is ons begrip van die monetêrebeleid-oordragsmeganisme. Hoe presies verwag ons ‘n verandering in die repokoers om die algemene prysvlak te beïnvloed, of meer spesifiek, hoe kan ‘n verhoging in die repokoers na ons mening die inflasiedruk voortspruitend uit ons geïdentifiseerde oorsake verlig?

Sal die verdere onderdrukking van reeds swak plaaslike vraag deur die vergroting van skuldenaars se skuldedienslas en die verhoging van die koste van krediet die ding doen? Sal dit besigheid se prysbepalingsmag verswak tot ‘n punt waar wins nadelig geraak word? Of sal besigheid, wanneer dit voor selfs laer voornemende vraag staan, in elk geval pryse verhoog in ‘n poging om nominale omset te probeer steun? Verlig die vooruitsig van voortgesette fiskale verstramming vir die volgende paar jaar nie die las van monetêre beleid nie?

Die prysdruk weens die droogte en gereguleerde pryse kan nie deur monetêre beleid verlig word nie. Voedselpryse sal normaliseer sodra aanbod normaliseer, terwyl gereguleerde pryse ‘n kwessie van beleid is.

Daar is reeds keer op keer bewys hoe nutteloos dit is om die wisselkoers van die rand te probeer beskerm deur rentekoerse te verhoog. Dit is onredelik om te verwag dat rentekoersverskille markdeelnemers sal aanmoedig om ‘n ongedekte posisie in te neem in ‘n geldeenheid wat so wisselvallig soos die rand is, waar enige voordeel uit ‘n gunstige rentekoersverskil oornag deur ‘n nadelige beweging in die wisselkoers uitgewis kan word.

Wat wel die wisselkoers sal ondersteun, is hoër ekonomiese groei. Dit lei tot die oënskynlik onrealistiese gevolgtrekking dat laer rentekoerse inderdaad die geldeenheid kan laat verstewig deur kapitaalinvloeie, byvoorbeeld verhoogde buitelandse aankope van plaaslike aandele, aan te moedig. ‘n Oplossing van die politieke dooiepunt sal ook nuttig wees.

My gevolgtrekking is dus dat die MBK uiters versigtig moet wees wat betref ‘n verdere verhoging van die repokoers. Die kumulatiewe verhoging van 200 basispunte oor die verstrammingsiklus is in elk geval waarskynlik gelykstaande aan 300 basispunte in die vorige verstrammingsiklus as die uitwerking van hoër kapitaalbehoeftes en strenger kredietverleningstandaarde ná die finansiële krisis in ag geneem word.

Alhoewel die MBK moontlik van mening is dat hul geloofwaardigheid op die spel kan wees indien hulle nie beleid verder verstram nie, behoort hulle tekens te begin gee dat die einde van die verstrammingsiklus naby is. In een of ander stadium sal die normale sloering waarmee monetêre beleid werk ons in elk geval verby die boonste inflasiedraaipunt neem, m.a.w. die rentesiklus sal voor die inflasiesiklus ‘n hoogtepunt bereik.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam