Skip Ribbon Commands
Skip to main content

The information on the Adviser and Institutional areas of this site have been tailored for investment professionals. Appropriate product, fund and service information for private investors can be accessed on the Personal area of our site. Terms & conditions.

continue
Do not show this again.

Contact

Call me back

Advice

Back

Email us

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Dit volg dus dat ‘n mens in beginsel groot ooreenstemming tussen die twee beleidsvorme kan verwag wanneer dit kom by die vereiste beleidstandpunt met die oog op huidige makro-ekonomiese toestande, veral wat die sikliese aspek daarvan betref.

Wat betref beleid wat strukturele uitdagings aanspreek, kan (en moet) die twee beleidsvorme verskil volgens elkeen se vermoë om ‘n bepaalde strukturele kwessie aan te spreek. In die verlede het veral die SARB dit baie duidelik gestel dat die verantwoordelikheid vir die meeste strukturele beleidsrigtings oor die algemeen nie by hom berus nie. Die ongelukkige werklikheid is dat die sikliese gedrag van die ekonomie dikwels deur strukturele kwessies oorweldig word, soos wat tans die geval is.

Die heersende makro-ekonomiese situasie is netelig om die minste te sê. Ekonomiese groei (wat waarskynlik nie in 2016 meer as 1% gaan wees nie, met ‘n groot moontlikheid van ‘n tegniese resessie) is heeltemal te laag vir die land se behoeftes, inflasie neig na die hoë kant van die inflasieteikenband met die risiko van ‘n verdere styging (hoofsaaklik weens ‘n ongebonde rand en stygende voedselpryse), dit wil voorkom asof die tradisionele betalingsbalansbeperking gaan vernou namate die beskikbaarheid van internasionale kapitaal vir die finansiering van die tekort op die lopende rekening krimp, en vertroue is op die laagste vlak in jare.

Hoeveel hiervan aan ‘n nie-ondersteunende internasionale omgewing en hoeveel aan plaaslike swakhede toegeskryf kan word, is ‘n ope vraag, alhoewel dit ‘n groot invloed uitoefen op wat die korrekte beleidsresponse behoort te wees. ‘n Beduidende verskuiwing is blykbaar besig om internasionaal plaas te vind tot nadeel van opkomendemarklande. Dit dra verder by tot plaaslike strukturele tekortkominge wat te lank verwaarloos is. Dit is ewe moeilik om sikliese en strukturele kwessies van mekaar te skei, alhoewel laasgenoemde skynbaar ‘n oorheersende invloed het.

Hoe kom monetêre en fiskale beleid dus in die spel teen hierdie agtergrond? Is daar enigsins ruimte vir enige van die beleidsvorme om positief op die swakheid in reële ekonomiese toestande te reageer?

Die feit is dat fiskale beleid in ‘n verknorsing is. Die fiskale beweegruimte wat beskikbaar was toe die huidige administrasie in 2009 die bewind aanvaar het, is vermors op ‘n skerp styging in herhalende lopende uitgawes (veral die regering se loonrekening) in plaas van aangewend te word om van die strukturele knelpunte wat die ekonomie aan bande lê uit die weg te ruim. Die stygtendens in staatskuld moet gekeer word om ten minste ‘n kans te hê om ‘n kredietafgradering na rommelstatus te vermy, alhoewel dit dalk nie genoeg sal wees nie. (Graderingsagentskappe beklemtoon toenemend die lae groeipotensiaal van die ekonomie.)

‘n Verdere verstramming van fiskale beleid, waarskynlik in die vorm van hoër belastings eerder as die besnoeiing van staatsuitgawes, kan dus verwag word. Die skep van ruimte vir die oplossing van strukturele tekortkominge sal ‘n hertoedeling van staatsuitgawes van lopende na kapitaaluitgawes vereis – wat onwaarskynlik is. (Meer oor fiskalebeleidsopsies in my volgende kommentaar.)

Wat dan van die bydrae van monetêre beleid? Moet dit die stram fiskale beleid versterk? Of moet dit beur teen die winde van voor wat deur ‘n stram fiskale situasie veroorsaak word?

‘n Mens sou gewoonlik sê dat die ooreenstemmende posisionering van monetêre en fiskale beleid van hulle vereis om dieselfde rigting, hetsy ekspansionisties of beperkend, en nie teenoorgestelde rigtings nie, te volg. Maar is ‘n verstramming van monetêre beleid tesame met ‘n onvermydelik stram fiskale beleid in hierdie stadium die beste opsie?

Behoort monetêre beleid nie tot toeskietlikheid te neig om deels te vergoed vir ‘n beperkende fiskale beleid wat op Suid-Afrika afgedwing is deur die nodigheid om die staatsfinansies te stabiliseer nie? En is daar ruimte vir ‘n meer toegeeflike monetêrebeleidstandpunt gelet daarop dat die SARB verklaar het dat hy in ‘n verstrammingsiklus is om inflasie te bekamp en sy geloofwaardigheid te beskerm?

Die vertrekpunt is natuurlik hoe onaantasbaar die inflasieteiken van 3 – 6% behoort te wees. Die teiken is gekies in ‘n stadium toe lae en stabiele inflasie as die heilige graal van makro-ekonomiese beleid beskou is en ontwikkelde lande ingestel was op ‘n inflasiekoers van 2%. Sedertdien word die wysheid van ‘n uitsluitlike fokus op inflasie as die doelwit van monetêre beleid bevraagteken, het deflasie eerder as inflasie ‘n groot bron van kommer vir sommige sentrale banke geword, is duidelik getoon hoe moeilik dit is om nilrentekoerse te hanteer, en is die geskiktheid van ‘n 2%-inflasieteiken vir ontwikkelde lande nie meer onveranderbaar nie. Makro-ekonome van hoë aansien, soos Laurence Ball en Olivier Blanchard, ‘n voormalige hoofekonoom van die IMF, het voorgestel dat 4% moontlik ‘n beter keuse kan wees.

Die SARB sal waarskynlik aanvoer dat die verlaging van die inflasieteiken wanneer dit bedreig word daartoe sal lei dat inflasieverwagtinge nie veranker is nie en die Bank se geloofwaardigheid sal ondermyn. Dit is te verstane. Dit sou beter wees om die teiken te verslap wanneer inflasie heeltemal binne die bestaande teikenband is. Op hierdie tydstip is die vraag dus eerder of die SARB selfs meer buigsaam in sy benadering behoort te wees as wat hy in die verlede was en wat die gevolge vir inflasieverwagtinge – die vuurproef vir die geloofwaardigheid van monetêre beleid – sal wees.

‘n Fundamentele vraag is of ons (bedoelende die SARB en hoofstroom-ekonome) nie die rol van inflasieteikens en dus monetêre beleid in die skepping van inflasieverwagtinge oorskat nie. Navorsing wat onlangs gedoen is onder maatskappye in Nieu-Seeland, wat die baanbrekers op die gebied van inflasieteikenstelling is nadat hulle dit 25 jaar gelede amptelik as ‘n monetêrebeleidstelsel aanvaar het, het interessante lig op hierdie vraag gewerp.

Die navorsing toon eerstens dat maatskappye baie verskil wat betref die aandag wat hulle aan onlangse makro-ekonomiese toestande gee en dat menings oor onlangse inflasie baie uiteenlopend is. Dit is interessant om daarop te let dat die meeste maatskappye nie algemene inflasie as belangrik vir hul sakebesluite beskou nie en dus min moete doen om op hoogte daarvan te bly – hulle fokus liewer op veranderlikes soos ekonomiese groei, wisselkoerse en rentekoerse. Die gebrek aan aandag aan onlangse makro-ekonomiese toestande speel ‘n belangrike rol by die uiteenlopendheid van toekomstige verwagtinge, ook wat inflasie betref.

Tweedens is maatskappye wat minder mededinging in die gesig staar geneig om die minste aandag aan makro-ekonomiese data, veral algemene inflasie, te gee, wat waarskynlik ‘n weerspieëling van vertroue in hul prysbepalingsmag is. Hierdie bevinding is uiters relevant vir Suid-Afrika met sy oorheersend oligopolistiese markstrukture. Derdens is maatskappye wat nie professionele inflasievooruitskatters het nie (bv. ekonome in diens van groot maatskappye) geneig om hoër inflasieverwagtinge te hê. Vierdens is maatskappye geneig om meer op negatiewe nuus as op positiewe nuus te reageer. Dit het die skepping van asimmetriese verwagtinge tot gevolg, wat moontlik verduidelik waarom hul inflasieverwagtinge hoër is.

Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat maatskappye net ‘n beperkte begrip van die stabiliteit van inflasiedinamika onder inflasieteikenstelling het. Dit volg ook dat monetêrebeleidvorming wat op die bestuur van inflasieverwagtinge as deel van die transmissiemeganisme staatmaak, dalk nie doeltreffend is nie. As ‘n mens daaroor nadink, is dit waarskynlik onrealisties om te dink dat maatskappye besluite oor pryse sal neem gelet op die gevolge daarvan vir algemen inflasie, wel wetende dat dit onwaarskynlik is dat hulle mededingers dit sal doen.

Dit sou interessant wees indien soortgelyke navorsing onder Suid-Afrikaanse maatskappye gedoen kon word. In watter mate maatskappye se inflasieverwagtinge en prysbesluite inderdaad deur monetêre beleid, by name die inflasieteiken, beïnvloed word, is ‘n ope vraag.

Lesers sal waarskynlik verwys na die bestaande opname van inflasie-verwagtinge wat deur die BER namens die SARB gedoen word. Die navorsing wat hier in die vooruitsig gestel word sal egter in belangrike opsigte van die amptelike opname verskil. eerstens sal dit ’n groter aantal en verskeidenheid van ondernemings insluit. Tweedens sal dit ’n ander metodologie volg, in die besonder met die weglating van die leiding wat aan respondente gegee word deur die onlangse inflasie-geskiedenis onder hulle aandag te bring en wat as “bestuurde” verwagtinge beskou kan word, tot gevolg het. (In die Nieu Seelandse navorsing het 20% van ondernemings geglo dat inflasie in die voorafgaande 12 maande 10% beloop het vergeleke met die werklike syfer van 2%, terwyl ’n derde van ondernemings meer as 5 persentasiepunte van die merk af was!)

Aangesien die wisselkoers van die rand die ekonomiese veranderlike in Suid-Afrika is wat die hoogste profiel geniet, het dit waarskynlik die grootste invloed op inflasieverwagtinge. In soverre monetêre beleid nie op die wisselkoers gerig is nie (soos herhaaldelik deur die SARB beklemtoon) en inderdaad min kan doen om dit te beïnvloed, is dit twyfelagtig of inflasieverwagtinge so goed veranker is soos wat algemeen aanvaar word.

Dit laat ons met die gevolgtrekking dat aangesien ‘n strammer fiskale beleid onvermydelik is, ‘n ietwat meer toeskietlike monetêre beleid wat nie daarop gemik is om reeds swak plaaslike vraag verder te demp nie, in orde sou wees en nie dogmaties gevrees hoef te word nie.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam